KRUIE KRAAI KONING



ANTOINETTE PIENAAR





OPSIES




                             WEBTUISTE                                

FACEBOOK                                                                            WEBTUISTE                                                                             BLOG







Life Cards in my lewe.

Life Cards

In my kinderdae op Carnarvon was ek geseend om soveel tyd as wat ek wou , in die veld te spandeer. Hierdie dorpie met sy stofstrate en sy een teerstraat , het my die vryheid gegee om ure myself te verloor in die natuur, met die blou lug en die goue son as my metgeselle, om oor die draad te klim en na die rivier, meestal droog, te gaan om die natuur te beleef. Ons het aan die kant van die dorp gebly en voor ons huis, het n mens n onbelemmerde uitsig oor die veld gehad, en die veld het altyd gewag.

As ek die veld ingevaar het, het tyd stilgestaan en die wydheid van die Karoo-vlaktes het my bly roep met haar soet stem van avonture. Partykeer het ek ver geloop, ander tye het ek vir lang tye stilgesit en gevoel ek verdwyn en word n klip of n bossie en dan kon ek die diere van die natuur sit en dophou.  Na n tyd sou n muis uit sy gat uitkom of n voeltjie sou sommer op n bossie naby my kom sit. Elke keer as ek n wilde diertjie gesien het, het dit my spesiaal laat voel en ek het dan gevoel asof na God gekyk het.

Later, toe ek  my dramastudies voltooi en in stede begin woon het, het minder kontak met die natuur gehad en gevoel n belangrike lewens-aar is geblokkeer. Iemand het my voorgestel aan Tarot kaarte, Animal kaarte, Angel Kaarte en Noord-Amerikaanse kaarte en hoe n mens dit daagliks kan gebruik vir daaglikse spirituele gebruik. By die Animal kaarte het ek geleer dat dit iets beteken as jy n sekere dier sien en dat die dier jou tot sekere insigte kan lei. Elke keer was ek teleurgestel, want vir my het n dier altyd iets anders beteken, nie omdat ek slimmer is nie, maar omdat ek uniek is. Die verduideliking was moeilik om na te slaan en partykeer moeilik om te verstaan. Ek het bly soek na oer-waarhede waarmee ek myself kom omring en die Tarot kaarte het nie daardie behoefte vervul nie.

Ek het in n huis grootgeword waar my ouers elke oggend dagstukkies uit ‘’ Die Beek” gelees het, waar elke dag se stukkie begin het met n Bybelvers en daarna die verduideliking daarvan. Daardie vers sou hulle deur die dag dra en as hulle n vriend raakgeloop het, het hulle baie keer dit met hulle gedeel. Ek het nie aanklank gevind in “Die Beek” nie en my soektog het voortgegaan. Die manier hoe die NG Kerk n soort spreekbuis was vir die vorige regering, het my heeltemal vervreem van die kerk en ek was  te opstandig om dagstukkies van predikante te lees. Eers jare later het ek besef dat God nie net in die kerk is nie, maar dat die natuur n vergestalting van God is. Na Tarot kaarte my begin verveel het, het my soektog voortgegaan en onlangs het ek iets gekry wat my pasmaak pas.

Michael en Penny Misplon het vir jare op Murraysburg gebly, waar ek geseend was om by hulle aan huis te kom. Hulle doen groot werk in die veld van genesing en baie keer het wyse woorde uit hulle monde, lewensgordels geword, wat my keer op keer van verdrinking gered het. Lewens-waarhede is altyd eenvoudig en as n mens dit hoor, voel jy altyd ; “ Ek weet dit, iemand moes my net herinner .” Michael en Penny het die eerste van n reeks Life Cards uitgebring en as jy nou ooit n paar woorde gesoek het om jou dag in te lei en jou deur die dag te dra, dan is dit hierdie Life Cards. Ek kies elke dag n kaart in my stilte-tyd en dan loop en herkou ek aan hierdie kaart die hele dag, partykeer hou hierdie herkou sommer n paar dae lank aan. In my latere lewe het ek toenemend besef dat God in alles is en dat ons moet oop genoeg wees om Hom in alles raak te sien. In hierdie Life Cards kan ek sien hoe die Gees Michael gelei het om hierdie oer-waarhede neer te skryf en dit aan die mensdom te gee in die vorm van die hierdie kaarte.

 

Jy kan bestel deur vir Penny te bel by 044  8730251 of jy kan vir hulle n e-pos stuur by pjnmisplon@gmail.com.