Tuis
Oom Johannes en Antoinette
Kruielys
Boererate
RSG
Vrae en Antwoorde
Die Boek: Kruidjie roer my
Kontak Ons
Die Mediakamer



English site

KRUIE KRAAI KONING

Diep in die Groot Karoo van Suid-Afrika, aan die voet van ‘n berg sonder ‘n offisiële naam, leer ‘n Griekwa-kruiekenner ‘n wit vrou hoe om mense met kruie gesond te maak. Oom Johannes Willemse, reeds in sy negentigs, was sommer vies dat dit bekende Afrikaanse aktrise Antoinette Pienaar amper 40 jaar geneem het om by hom uit te kom – hy droom dan reeds dekades dat sy hom gaan help om sy kennis oor te dra.

Toe sy in 2001 op kleinneef Jacques Pienaar se plaas Theefontein opdaag was Antoinette ernstig verswak nadat sy serebrale malaria in Wes-Afrika opgedoen het, maar sy het aangebly om deur kruie en die Karoo genees te word.

    


“Dokters het my aangesę om maar reg te maak vir ‘n vroeë dood omdat my lewer en niere baie skade opgedoen het, maar ek het eerstehands ondervind hoe die kruie my organe versterk het en ek is nou volkome gesond. Konvensionele medikasie neem in baie gevalle die werking van die geaffekteerde orgaan oor, maar kruie versterk die orgaan sodat hy self die werk kan doen. Kruie werk op fisiese sowel as emosionele vlak in die liggaam en verlig daarom ook simptome wat saam met post-traumatiese stres gaan,” sę Antoinette.

In die Karoo by Oom Johannes het sy ook geleer van veldkuns, veldkruie, kruiepreparate voorberei en lewe soos die ou mense gelewe het. “So het die son warm oor my kop geskyn en die blou lug die mantel geword wat ek elke dag gedra het. Deur só omring te wees met die balans van die natuur, het ek gevolglik ook balans in my binnelandskap ontvang.”

Op ‘n hoogtetjie naby die plaasopstal bly sy en die oom in werkershuisies sonder elektrisiteit of lopende water – op hulle eie werf met diere, voëls, rus en vrede. In Antoinette se wit huisie teen die bult rol stories uit soos rivierklippe: die nou reeds bekende boek Kruidjie roer my is voor die klein kombuisvenstertjie op ‘n ou tikmasjien geskryf. Net soos die boek, en Antoinette se Vrydagmiddag-bydrae op Amore Bekker se Tjailatyd op Radiosondergrense (RSG), is hierdie webwerf bedoel om eeue se kosbare en bruikbare inligting, stories en rate aan huidige en toekomstige geslagte oor te dra.

Vandag kan enige persoon wat ‘n foon kan optel, of die kuberruimte kan gebruik, voordeel trek uit die antieke kennis en genesingskrag van kruie…maar die opregte soeker kan in die Karoo by Oom Johannes en Antoinette kuier vir genesing van liggaam en siel.

Klik op die Kruielys om te sien watter kombinasies Karoo-kruie jou kwale kan genees of verlig. Die kruie is almal beskikbaar, saam met ‘n reseppie oor hoe om dit korrek aan te maak en te gebruik, direk van die plaas

Daar is ook Boererate vir allerdaagse skete en kranke, en ‘n lys van Vrae wat Antoinette gereeld moet beantwoord.

Die Mediakamer sluit vorige berigte en artikels van Antoinette en Oom Johannes in asook persverklarings en hoë-resolusiefoto’s vir mediagebruik.




Site designed and hosted by
S2 Web Solutions